Ry vir die rede

Hulle is toegewyd tot ’n nul.  ’n Ronde nul.

Willem Lategan sit vorentoe in sy stoel. Een hand rus gemaklik op sy knie en die ander beduie soos hy praat.

“Mense moet oor die wêreld heen soek, en hulle moet geen groep kry wat nog onbereik is deur die Evangelie nie.”

Op die skerm agter hom leef foto’s van uitreike na Lesotho en Noord-Afrika. Statistieke van die getal onbereikte volkegroepe in die wêreld sonder enige gedeelte van die Bybel – ongeveer 1 671 – beklemtoon die dringendheid in sy stem.

“Die Evangelie moet aan elke stam, elke volk verkondig word. Jesus se laaste opdrag, laaste woorde moet ons grootste verantwoordelikheid en eerste prioriteit wees.  Ons grootste taak.”

Juis daarom dat Willem en sy vrou, Carin, ’n volkgroep op ’n eiland aan die kus van Noord-Afrika “aangeneem” het. Dié volkegroep*, met ongeveer 300 000 mense, het slegs ’n halwe persent geheime gelowiges in een van vyf subgroepe, wat oor twee lande in Noord Afrika versprei is.  Geen Bybel, geen Jesus-film.

“Hierdie mense het geen lewendige getuienis van die Evangelie nie, geen benul van wat Jesus vir hulle kom doen het nie.”

“Die storie voor my en Carin se storie begin eintlik baie vroeër – by die Amsterdam 2000 – kongres vir wêreld evangelisasie.”

Altesaam 600 Christenleiers het in dié jaar om 75 tafels bymekaargekom om die kwessie van onbereikte volke te bespreek.

Die stigter van Walk Thru the Bible, Bruce Wilkinson, en Paul Eshelman van die Jesus film projek, wat toe die vergadering gelei het, het ’n beroep op almal teenwoordig gedoen om volkegroepe as hul verantwoordelikheid aan te neem.

Een ná die ander het mense hul hande opgesteek en vir verlore volke pa gestaan. Volk ná volk is aangeneem terwyl die hemele juig.

En toe is daar stilte. Oorverdowende, teleurstellende stilte toe mense ophou om eienaarskap van ongeveer die helfte van die volke te vat.

Maar by een tafel, tafel nommer 71, het dit stadig maar seker begin gons. Almal se harte was dit eens.  Kom ons vat die res.  En só is die Table 71-inisiatief begin.

Leiers van organisasies soos Campus Crusade for Christ (Cru), Youth with a mission, International Mission Board, Wycliffe Byblelvertalers, The Seed Company, Transwêreld Radio, Walk Thru the Bible, en die Jesus Film het dit hul grootste doel gemaak om Jesus se laaste woorde te gehoorsaam. En elke jaar kom dié tafel se mense weer byeen om seker te maak dat die doel bereik word.

Willem sit weer terug en drink aan sy koffie.

In Oktober 2010 het hy en Carin namens Walk Thru the Bible, waarvan hy die Suid- Afrikaanse voorsitter is, die Lausanne-kongres in Franschhoek bygewoon.

Opwinding kleur sy oë in. “Ek en Carin sit toe saam met hierdie mense om die tafel, maar hulle is aan die gáng, jong.  Ons sit toe maar net terug en kyk die ding so.”

Samuel Chiang, vandag van The Seed Company en van die ander leiers, vra toe vir hulle die groot vraag.

“Wil óns nie oorweeg om ’n volkgroep aan te neem nie?” Met ’n skud van sy kop onthou hy weer daardie gevoel.  Vrees, onsekerheid. Opwinding.

“Ek gaan raak toe stil voor die Here. Hy gee vir my ’n skrif – Lukas 12:21. Moenie net aardse welvaart opbou nie, maar wees ryk in God.”

Hoe hulle hierdie ding sou doen, het hy nie geweet nie. Maar die Here het gepraat, en gehoorsaam móés hulle wees.

’n Twee jaar later, in Oktober 2012, het Willem en Carin die geleentheid gehad om saam met ’n groep mense Bybels in Noord-Afrika in te neem.

Hul dogter, Charissa (toe 12), was egter baie bang om hulle te laat gaan. Sy glimlag wanneer sy terugdink.  “Ek het net die een oggend wakker geword met vrede.  Ek het geweet hulle moet gaan en dat die Here hulle veilig sal hou.”

Carin kyk met deernis na haar kind. “Nou ja, toe het ons nie meer ’n verskoning om nie te gaan nie!”

Belaai met Bybels, toegedraai om soos geskenke te lyk, is hulle saam met tien ander Noord-Afrika* binne.

Sonder enige moeilikheid is almal veilig deur doeane – behalwe Willem en nog ’n jong man.

“Ons tasse het net nie opgedaag nie,” onthou hy. “Toe die bagasie uiteindelik aankom, sak die sekuriteit op ons neer en dring daarop aan om dit te ondersoek.”

Met die wete dat hul tasse vol Bybels was, kon hulle net bid.

“Die hoof van die sekuriteit gryp toe ’n Kinderbybel. Die geskenkpapier was geskeer en ’n tekenprent Jesus was duidelik te sien. Hy smyt toe die Bybel terug en sê ons moet gaan.  Net daar weet ons dat hulle ons kan agtervolg.”

Die groep besluit toe dit is te gevaarlik om op in die oorsponklike stad die aflewering te gaan maak.

Vir drie, vier dae het hulle laag gelê en op die ou end 400 km na ’n heel ander dorp* per trein gery om by ’n ondergrondse kerk die aflewering te maak.

Met sy rekenaar se muis volg Willem die kronkelroete al langs die kaart af.

“Ek was verlig dat ons afgelaai het. Toe ons op die trein klim om terug te ry, het ’n Moslemvrou opgeklim en reg oorkant Carin gaan sit. Knie teen knie. Sy bied vir Carin kos aan en hulle begin saam eet terwyl hulle land en sand gesels,” vertel Willem. “Op daai stadium sit ek en gesels met die Here. Om eerlik te wees, was ek moedeloos. Ek het vir die Here gevra hoekom ek vasgetrek is en hoekom ons só ’n groot ompad moes ry om die Bybels af te laai.”

“En daar herinner God my aan my belofte van Oktober 2010. En Hy sê vir my ek moet oplet.”

Op daai oomblik hoor Willem hoe die vrou die naam van ’n plek – ’n eiland net van die kus van haar tuisdorp – sê.

“Ek het net gewéét. Dít is die volk wat ons moet aanneem. Ons het hierdie hele reis geneem, moes die ompad vat, om juis hierdie vrou te ontmoet.”

Daai aand terug in hul hotel was Willem op die internet besig om navorsing te doen. Is daar Christene?  Net ’n halwe present, in die geheim.  Bybels?  Glad nie.

Met sy hart vol van God se oortuiging het Willem sy werk by ‘n bekende Welvaart- en belggingsbestuurs firma bedank en ‘n nuwe besigheid begin. Sy besigheidsvennoot Neels Grobbelaar was di teens dat die besigheid – RiG adviesdienste, genoem word – Ryk in God, nes die Here die skrif vir Willem gegee het.

Nou, met die besigheid wat op die been is, is dit tyd vir hulle om die res van hul belofte na te kom.

“Ons is betrokke by dissipelskap en sending in ons besigheid, in Lesotho en ook oorsee,” sê Carin.

“Soos wat Handelinge 1:8 sê: Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld,” beaam Willem.

“Ons glo daarin om nie net die Here te volg nie, maar ook vissers van mense te maak. Ons glo in besigheid as ’n missie. Sendingwerk kan nie meer op die ou manier gedoen word nie. Ons gaan nooit klaarkry met die ding as ons nie iets anders doen nie,” lag hy. “Sendingwerk is nie net vir die kerk op Sodae nie – dit is vir die werksplek ook.”

Nou weet hulle dit is tyd om die sirkel toe te maak, om hul taak te voltooi.

“Toe ons in 2012 in Noord-Afrika was, het ons geweefde matjies gekoop,” sê Carin. “Hulle lê nou weerskante van ons bed. Elke oggend as ons voete die matjies tref, bid ons vir daai volkgroep.”

“Hierdie volkeregroep is ’n moeilike een. Een van dié wat niemand wou hê nie, wat oorgebly het.  ’n Plek waar jy ingaan en nie noodwendig weer uitkom nie,” sê Willem.

Die werk wat op hulle wag, is groot. Dié volkeregroep het geen Bybel in hul moedertaal nie, geen Jesus-film nie.

Die eerste ding wat hulle beoog, is om in kontak te kom met een van die geheime Christene op die eiland en dan saam te werk om die Evangelie van Lukas te vertaal. Dit sal dan ook as die klankbaan vir die Jesus-film dien.

“Ek is so opgewonde om hierdie ding strategies aanmekaar te sit en die eerste daadwerklike tr犀利士
ee te gee,” sê Willem.

Om ’n volkeregroep vir Christus te bereik is nie goedkoop nie, maar hulle rus in die wete dat God in beheer is.

“Ek is nou so opgewonde om te sien hoe die Gees beweeg,” sê Carin. “Hy vat ons by die hand en lei ons. Dit is vir ons so ’n bevestiging dat God in beheer is. Al die legkaartstukkies val nou in plek.  Nou moet ons net gehoorsaam wees.”

Om geld in te samel hiervoor, het hulle by die 360NE-bergfietswedren betrokke geraak.

“Ons pak hierdie uitdaging aan om die sirkel van ons belofte toe te maak,” sê Willem.

Dié wedren, wat oor 360km strek, en in 36uur voltooi moet word, se roete is ’n volle 360 grade. ’n Ronde sirkel, wat uit vier skofte of bene bestaan.

“Ons probeer soveel as moontlik bergfietsry spanne inskryf, en dié spanne gaan geborg word vir elke kilometer wat hulle aflê.  Enigiemand wat trap en reeds ingeskryf is vir die 360NE, kan ook deelword van hierdie inisiatief, selfs al is hulle nie deel van die spanne wat ons inskryf nie.”

Of jy nou alleen wil ry, in ’n span of as deel van ’n aflos, kan jy trap vir ’n rede, meen Willem.

En nie enige rede nie. Jy kan trap vir dié rede. “Jesus het sy lewe gegee vir almal – selfs vir die mense wat nog nie eers van Hom weet nie.”

“Selfs alledaagse aktiwiteite soos fietsry kan gebruik word om die Koninkryk uit te brei,” voeg Carin by.

Net soveel mense kan trap, maar deur te gee kan baie meer mense belê in die toekoms van die volkere groep in Noord-Afrika. ’n Toekoms wat saam met Jesus helder is.

“Hierdie ding is groter as ons. Die Here moet deurkom, want sonder Hom sal ons dit nooit kan doen nie,” sê Carin.

“Die Here het vir ons hierdie visie gegee, maar ook ’n visie vir Suid-Afrika.  Ons kan dit nie op ons eie doen nie. Dit maak my eintlik bang, so groot is hierdie ding.  Maar dit maak my ook opgewonde om te sien hoe Jesus se hand en seën sterk hierop rus. En deur hierdie 360ne-veldtog gee kan enigiemand die geleentheid hê om die Evangelie na die uithoeke van die aarde te vat.”

Willem skud sy kop. “Niemand het ooit gesê hierdie ding gaan maklik wees nie. Maar die moeite werd? Beslis. Jesus se laaste woorde moet ons grootste en eerste prioriteit wees.”

*Sekere organisasies, lande en dorpe se name is weens veiligheidsredes weerhou.

*Kontak 086-1221-777 of besoek www.leavealastinglegacy.org vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak.

Laai artikel af