Oesterbaai Gemeenskapskerk

Kern-Geloofoortuigings:

1. BYBELGESAG:
Die Ou-en Nuwe Testament is geinspireer deur God en dit is die hoogste en finale gesag vir geloof en lewe.

2. DIE DRIE-EENHEID:
Daar is een God wat bestaan uit drie persone: die Vader, die Seun (Jesus Christus)en die Heilige Gees.

3. JESUS CHRISTUS:
Hy is God en mens. Hy is gebore uit die maagd Maria. Sy dood aan die kruis was ‘n offer vir ons sondes. Hy het gesterf om ons reg met God te maak. Hy het
opgestaan uit die dood . Hy leef. Hy het na die hemel opgevaar en is nou ons Hoëpriester en Advokaat.

4. MENSE, SONDE & VERLOSSING:
Mense is geskape na God se beeld, maar het sonde in hul natuur. Sonde bring ‘n geestelike en fisiese dood. Verlossing kom deur geloof in Jesus Christus aleen, sy kruisdood en opstanding.

5. HEILIGE GEES:
Ons glo in die werking en vervulling van die Heilige Gees. Die Heilige Gees verwek nuwe lewe in gelowiges (wedergeboorte). Die werking van die Heilige Gees, het die dra van vrugte van die Heilige Gees in die lewe van gelowiges tot gevolg. Die Heilige Gees gee ook geestelike gawes aan gelowiges.

6. KERK & GEMEENSKAP:
Die kerk (gemeente) is gesamentlik geroep – om gelowiges te help om geestelik te groei (dissipelskap en geestelike transformasie), om mekaar in liefde te dien en te ondersteun, om God saam te aanbid en te prys en om die verlorenes te evangeliseer. Ons glo in die vyf-voudige bediening soos in Efesiers 4:11 beskryf. Ons glo in lewe-op-lewe dissipelskapgroepe as belangrike plekke van geestelike groei, ondersteuning en geestelike vorming. Ons is ‘n Afrikaanse kerk. Ons glo dat almal wat Afrikaans verstaan welkom is om ons eredienste by te woon. Daar bestaan geen diskriminasie teen geslag of ras in ons gemeenskap van gelowiges nie. Eenheid in ons geloofsgemeenskap is belangrik.

7. LEEFSTYL & MORELE RIGLYNE:
Seksuele etiek is belangrik: Ons glo aan heteroseksuele verhoudings binne ‘n wettige huwelik. Belangrikheid van gehoorsaamheid aan gesag in kerkverband, leerstellings en gedrag is van uiterste belang.

8. SAKRAMENTE/ORDE:
Ons glo in die gelowige doop en die Heilige Nagmaal. Ons doop nie babas nie maar seën hul in. Goddelike genesings en ander wonderwerke kan deel wees van die persoonlike geloofservaring.

9. TOEKOMSVERWAGTING:
Die wederkoms van Jesus Christus (persoonlike terugkeer) maak deel uit van ons geloof.

Lewensbeskrywing:
Carin Lategan:


Carin is ‘n volgeling van Jesus Christus en woon al vyf jaar op Oesterbaai. Sy beskik oor ‘n B.Th. (Hons) sowel as ‘n Meestersgraad in Teologie wat sy verwerf het aan die Universiteit van die Vrystaat. Saam met haar man Willem, wat in Februarie 2025 oorlede is, het hul vir vyftien jaar ‘n gemeente in Dewetsdorp gelei en verskeie huweliksretreats aangebied. Sy het ook verskeie vroue retreats in die Vrystaat gelei meer in besonder die “Jy is bekoorlik” retreat gebaseer op die werk van Stacey Eldredge van “Wild at Heart Ministeries”. Hierdie retreat was baie gefokus op vroulikheid, genesing van die hart en lewensherstel deur ‘n persoonlike verhouding met God. In 2024 het sy “School of Kingdom Living” van “Dallas Willard Ministries” in Amerika bygewoon. Hierdie was ‘n 18 maande program in Christelike Spirituele Vorming. Die doel van die program is om diegene wat reeds in verhouding met Christus is, te lei om daagliks as vakleerlinge (dissipels) in Sy koninkryk te leef. Dit word gedoen deur hul innerlike lewe te vorm en te verander om die karakter van Christus aan te neem.

Carin was ook vir 15 jaar deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Tydens hierdie tydperk het sy diens verrig as ‘n Stasiekommissaris en ook vir ‘n geruime tyd deel gevorm van oud President Nelson Mandela se beveiligingspan. Sy het die polisiediens in 2001 verlaat in die rang van ‘n luitenant-kolonel.

Sy beskik ook oor nagraadse kwalifikasies in sielkunde en bedryf tans ‘n sielkundige privaat praktyk in St. Francis. As ‘n Registered Councellor, geregistreer onder die HPCSA help sy daagliks kinders en volwassenes met geestesgesondheid uitdagings in die Kouga streek. Sy is ook die stigter van die nie- winsgewende organisasie “Young Mental Health” wat hom daarvoor beywer om kinders en tieners wat nie terapiesessies kan bekostig nie by te staan. Dit sluit kinders en adolessente in wat met angstigheid, depressie of outisme uitdagings ervaar. Sy werk ook baie met slagoffers van seksuele misdade en diegene wat uitdagings met ADHD en abnormale gedrag toon.

Carin is ‘n weduwee met ‘n sterk roeping op haar lewe om die Groot Opdrag en Groot Gebod van Jesus na die nasies te leef. Sy het een dogter Carissa wat in April 2025 getroud is met Sean MacDonald. Hulle is beide tandartse en woon in Pietermaritzburg.

Uitnodiging:

Ek nooi jou uit om ons geloofsgemeenskap te kom besoek. Jesus is die Lig en Hoop vir hierdie lewe en wȇreld.

As ‘n inwoner van Oesterbaai en sy omliggende areas, is jou eerste tree in hierdie wȇreld, Oesterbaai en sy omliggende dele. Kom wees deel van die oplosing vir ons gemeenskap se uitdagings . Daar was nog nooit so ‘n groot oproep na die Kerk van Christus om op te staan en die Lig te wees en die rigting aan te dui as juis nou nie. Dit gaan moeilik in ons land en mense het nie hoop nie. Kom beleef Jesus se krag en liefde in gemeenskap met ander en wees deel van dit wat God deur Sy kerk hier wil doen. Kom met ‘n verwagting in jou hart!

Liefde in Christus,
Carin Lategan